Geloofsgroei

Geloofsgroei
Ons lees hierdie week saam:
 
13 September – Koninkrykstyd 16
Genesis 50:15-21 Einde van sy lewe … Josef vertrou steeds God.
Psalm 103:(1-7), 8-13 Onverganklik is die liefde van die Here.
Matteus 18:21-35 Die “moeilike” (maar reguit) pad van vergifnis.
Romeine 14:1-12 Oordeel maar sag, want verantwoording wag.

Genesis 50:15-21 :

Die boek Genesis vertel vir ons van God wat beloftes maak … en dit nakom. Dikwels kom die Here sy beloftes na ten spyte van … ten spyte van mense ongehoorsaamheid; ten spyte van die verloop van tyd; ten spyte van onmoontlike omstandighede. Uit die verhaal van Josef – die selfversekerde en onsensitiewe dromer wat deur die Here ontwikkel is tot ‘n staatsman wat ontelbare mense van hongersnood gered het – is dit weereens duidelik naspeurbaar hoe die Here sy beloftes aangaande sy liefde vir en verbintenis aan die nageslag van Abraham tot volvoering bring. Ten spyte van Josef se broers se jaloesie; ten spyte van die moeilike omstandighede tydens sy slaweskap in Egipte; ten spyte van talle versoekinge; ten spyte selfs van sy oorweldigende suksesse; het die Here deur Josef gedoen wat Hy belowe het om te doen, naamlik om vir sy volk te sorg.
Een van die mooi dinge wat Genesis 50 ons aangaande Josef vertel is dat hy geheel sonder verbittering gesterf het. Die goue draad van God se plan met hom en deur hom het hierin ‘n belangrike rol gespeel. Josef kon aan die einde van sy lewe terugkyk oor al die swaar, al die terugslae, al die vernederings, al die suksesse, al die oorwinnings, en uiteindelik oor daardie lang geskiedenis heen alleen maar raaksien én daarop fokus dat die Here sy beloftes waar maak.
In sy afskeidsboodskap aan sy broers het Josef juis teenoor hulle getuig dat hy weet dat die Here nog steeds met die uitvoering van sy plan met Abraham se nageslag besig is; dat hy weet dat die Here nog steeds sy beloftes sal nakom. Dit was vir my besonders om by een Bybelkommentator te lees: “Joseph lived and died trusting in the promises of God”. Só het hy sy hele lewensreis verstaan: verlede, hede en toekoms gebou op die beloftes en die voorsienigheid van God.

Psalm 103:(1-7), 8-13 :
Bekende woorde, nie waar nie? Een van die redes hoekom hierdie verse vir ons so bekend is, is omdat dit dikwels in die erediens as dankgebed na die gebruik van die Nagmaal gelees word. Daardie is juis ‘n diep gelade oomblik in ons lewens, wanneer ons pas deur die brood en wyn bedien is, pas weer aan die eintlik onverwoordbare reikwydte van God se genade herinner is.
In die deel van Psalm 103 waarop ons hierdie week fokus, sien ons duidelik dat die digter amper nie genoeg oortreffende woorde en begrippe bymekaar kan sit om die ware omvang van die Here se genadige barmhartigheid (barmhartigheid wat uit sy genade spruit) te beskryf nie. Juis omdat ons weet dat ons elkeen straf (verwerping/vernietiging) vir ons sonde verdien, verstom (maak ons stil/sprakeloos) hierdie genade ons. Ons weet so goed dat ons dit nie verdien nie. En tog wil die Here ons so bitter graag van alle straf bevry. In vers 9 tot 12 wil dit lyk asof die digter se asem as’t ware weggewaai word deur die grootheid van die Here se genadewind. Hoe ver is die ooste vanaf die weste? Dit is mos onmeetbaar, die twee kan nooit bymekaar uitkom nie. Só ver wil die Here ons sonde weggooi … dat dit nooit weer by ons kan uitkom nie, sodat ons nooit weer daarvoor verantwoording hoef te doen nie.
Op ‘n manier wil die digter ons eintlik laat lag … lag van verstomming, lag van magtelose verbasing. Met die beelde wat hy gebruik wil hy ons iets laat ervaar van die grensloosheid van die Here se genade (… dink net vir ‘n oomblik oor die betekenis van die woord “grensloos” voordat jy verder lees). Jy kan nooit die bodem van die emmer van genade bereik nie. Dit is – met respek gesê – verspot oneindig.
Onthou jy die woorde van die bekende lied, Amazing Grace? “Amazing grace – how sweet the sound – that saved a wretch like me! I once was lost but now am found, was blind, but now I see.” Ons sing ook ‘n weergawe daarvan: “Genade, onbeskryflik groot het U aan my bewys: verlore seun – ’n wegloopkind – weer in die vaderhuis” (Liedboek 510). Psalm 103 vertel ook van dáárdie genade-sonder-grense.

Matteus 18:21-35 :
Toe Petrus aan Jesus gevra het hoeveel keer hy sy broer moet vergewe, het hy waarskynlik gehoop dat Jesus hom met ‘n haalbare getal sal help. Want, het Petrus waarskynlik gedink, Jesus is só ‘n deernisvolle en opofferende persoon dat Hy dalk in terme van vergifnis ook meer as die Joodse rabbi’s sal vra (hulle het geleer dat drie keer se vergewe genoeg is). Daarom het Petrus sommer by voorbaat sewe keer se vergewe aangebied. Petrus het ook maar gesukkel met dít wat ons gewoonlik mee worstel, naamlik dat ons nie omgee om ‘n paar keer (of ‘n tyd lank) te vergewe nie, want ons weet dit is reg en nodig. Maar ons sal darem graag wil weet wanneer ons ons voet vir ‘n slag kan neersit en sê: “Dit is nou genoeg. Die tyd om die minste wees is verby. Nou verhard ek my hart en hou my vergifnis vir myself.” Sal dit nie lekker wees om te kan weet dat daar ‘n punt kom waar selfs die Here tevrede sal wees indien ek iemand nie kan vergewe nie?
Die Here Jesus se antwoord op Petrus se vraag is verpletterend. Nie net vir hom nie, maar ook vir elkeen van ons. Die Here sê: “Vergewe sewentig maal sewe keer.” Daarmee het die Here Jesus beslis ook nie maar net 490 keer se vergewe bedoel nie, maar wel eerder vergifnis sonder grende. Die boodskap is duidelik: ons moet vergeet van tel. As ons nog op die vlak van tel en boekhou en berekeninge is, verstaan ons glad waaroor vergifnis gaan nie. Daarom het Jesus hierdie gelykenis vertel, om die saak vir ons nog duideliker te maak.
Ons kan onsself in albei die tonele in die gelykenis herken. In die troonsaal van die koning was ons ook al, want ons is self deur God so oneindig baie vergewe. Ons het genade ontvang … genade sonder grense. Ons is totaal vergewe, ons skuld is totaal vrygestel. Maar ons kan onsself waarskynlik ook in die toneel buite die troonsaal herken, waar ons sukkel of sommer net doodgewoon onwillig is om ander mense te vergewe. Dit is ook dáár waar die Here ons vra hoekom sy vergifnis ons dan nie verander het nie, waarom ons die vergifnis wat Hy aan ons betoon het nie teenoor ‘n ander persoon wil of kan uitleef nie.

Romeine 14:1-12 :
Paulus gebruik drie argumente om die omgekrapte gemeente in Rome te begelei om verby hul verskille en irritasies met mekaar te kyk en hul eenheid in Christus te beleef.
Die eerste rede hoekom gelowiges mekaar met verskille en al moet aanvaar en liefhê, is: die Here aanvaar vir óns. In die derde vers van ons skrifgedeelte staan dat die Here elkeen van ons aangeneem het. Wanneer die Here iemand aanneem (inlaat, ontvang, liefhet, vergewe en aanvaar), kan ons nie anders as om dit ook te doen nie. Ons aanvaar mekaar, ons is lief vir mekaar, nie omdat ons dit verdien nie, of omdat ons persoonlikhede soveel met mekaar ooreenstem nie, of omdat ons met alles rakende geloof met mekaar saamstem nie, maar omdat die Here vir ons aanvaar het. Op grond van die feit dat Hy ons in sy liggaam ingesluit het, kan ons nie anders as om mekaar te aanvaar en mekaar lief te hê nie.
Die tweede rede hoekom gelowiges mekaar met verskille en al moet aanvaar en liefhê, is omdat ons vir die Here leef. Vers 7 en 8 verduidelik dit: “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” Ons leef nie vir onsself nie. Ons glo vir onsself nie. Ons is nie deel van ‘n gemeente en geloofsgemeenskap ter wille van onsself nie. Ons totale geloofsaktiwiteit, van ons stiltetyd en gebede tot met ons deelwees en deelname aan die erediens, is ter wille van die Here. Ons doen dit vir Hom.
Die derde rede hoekom gelowiges mekaar met verskille en al moet aanvaar en liefhê, is omdat God alleen oor ons oordeel. In vers 10 tot 12: “Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar staan geskrywe: ‘So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.’ Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.”