
19 Julie – Koninkrykstyd 8
Psalm 86:11-17 Maak my ‘n voorbeeld van u goedheid, Heer.
Jesaja 44:6-8 God: Ek is die eerste en die laaste, vrees nie.
Matteus 13:24-30,36-43 Jesus: onkruid tussen die koring.
Romeine 8:12-25 Die Heilige Gees maak ons tot kinders van God.
Psalm 86:11-17 :
In hierdie psalm bring die digter aan God lof vir sy getrouheid (vers 5) en sy deernis (vers 13). En dan is daar ‘n derde saak waarvoor die digter die Here dank en dit is sy vermoë – maar ook sy bereidheid – om sy kinders te bevry van die impak van mense wat hulle nie goed gesind is nie (vers 10 en 14). Uit die trant van Psalm 86 wil dit voorkom asof die digter tans weer sterk onder aanval van sekere mense staan.
Ons is goed bekend met die emosie verpak in hierdie gebed. Ons staan ook soms voor die Here en vra Hom of Hy raaksien hoedat ons aangeval, benadeel of beskinder word. En daarom verstaan ons waarskynlik ook baie goed hoekom die digter in die laaste vers (vers 17) vra dat die Here aan hom ‘n teken sal gee wat hom (die digter) kan bemoedig, aan hom die bevestiging kan gee dat die Here bewus is van wat in sy lewe aangaan. Hy vra ‘n troosvolle bevestiging dat die Here se goedheid nog steeds oor hom uitgespreek is.
Natuurlik weet ons dat ons nie altyd ‘n sonstraal uit die hemel ontvang om ons in ‘n moeilike situasie te bemoedig nie. Soms wel … in die trooswoord van ‘n vriend, in die skoonheid van ‘n sonopkoms, in die lied van ‘n voël … maar meestal is daar nie sulke tasbare openbarings van die Here se versekering dat Hy ons seer raaksien en bewus is van die druk waaronder ons verkeer nie. Dit beteken egter nie dat Hy ons nié raaksien, nié bewus is van die klippe op ons lewenspad, of nié omgee dat ons met iets worstel of onsself onder druk bevind nie.
Juis daarom het ons woorde soos dié van Psalm 86 ontvang. Kyk gerus weer na die digter se woorde: hy het beslis bemoediging ontvang, want in sy gebed weerklink die worstels van oortuiging dat die Here sonder twyfel nie net alles van sy omstandighede weet nie, maar deernisvol sy seën oor hom uitspreek. Hy weet dat God goed is (5a), dat Hy getrou is (5b), dat Hy luister na sy pleitroep (6), dat Hy gebede verhoor (7), dat daar niemand soos die Here is nie (8). En veral weet hy dat die Here se liefde groot is (13), en dat die Here barmhartig, genadig, lankmoedig en vol liefde en trou is (15).
Sien jy wat die digter doen toe hy onder druk voel en smag na ‘n teken dat die Here hom raaksien? Hy herinner homself aan alles wat hy reeds van die Here weet. En dit word vir hom die trooswoord en die “teken” dat die Here hom in sy huidige situasie raaksien en begenadig.
Jesaja 44:6-8 :
In hierdie kort “preek” uit die sogenaamde Tweede-Jesaja versameling van profesieë is die fokus geheel en al op God se unieke wese. In ‘n wêreld vol gode (destyds en natuurlik ook in al die dinge wat vandag vir ons so belangrik is) kom die kragtige verklaring deur die Here self dat Hy die enigste God is: “Ek is die eerste en Ek is die laaste, buiten My is daar geen God nie” (vers 6b). Niks en niemand anders verdien ons aandag en respek soos die Here God nie.
Spandeer gerus‘n oomblik by die bekendstellingswoorde wat hierdie verklaring inlei: “… die Here, die Koning van Israel, sy Verlosser, die Here die Almagtige”. Wanneer God Homself as die Koning van Israel bekend stel, het Hy meer as net die Joodse volk in gedagte. Met hierdie woorde sluit Hy die totale mensdom en die kosmos as geheel in. Aangrypend is tweedens die herinnering dat die Here Homself ook as die Verlosser openbaar het – nie net vir Israel gedurende hul Ou-Testamentiese geskiedenis nie, maar vooruitskouend ook in Jesus Christus as die Verlosser wat elkeen van ons se lewens aangeraak het. Dan is daar die derde titel wat God in sy bekendstelling gebruik. In ons Afrikaanse Bybels word dit vertaal as “die Here die Almagtige” in die 1983-vertaling en “die Here, Heerser oor alle magte” in die 2020-vertaling. Laasgenoemde is nogal betekenisvol in dat dit nader is aan die oorspronklike Hebreeus צְבָאוֹת (seba’ot). Daarmee word verklaar dat God die heerser oor alle hemelse en aardse magte is – engele, sterre, nasies en elke mag of krag in die skepping.
Gebou op die fondamentstene van God se selfbekendstelling in vers 6 kom die bemoediging en versekering van vers 8: “Moenie skrik nie, moenie bang wees nie!” In ‘n wêreld vol dinge wat ‘n mens kán bang maak, of bekommerd, of onseker, weet gelowiges op grond van wie God is dat ons geen mag of krag hoef te vrees. God is ons Beskermer en ons Verlosser … Hy wat triomfeer oor elke aardse of buite-aardse mag.
Matteus 13:24-30,36-43 :
In Jesus se gelykenis is Hy die Saaier, die wêreld is die saailand, die gelowiges die koring en die ongelowiges die onkruid. Vir hierdie wêreld het God nog altyd net die heel beste bedoel. Dit was nie deel van God se skeppingsplan dat die Bose sal kom om onheil op sy land te saai nie. Maar die Bose het probeer om God se plan te vernietig. Hy het sy onreg en onheil gesaai. Party dae voel ‘n mens oorweldig deur daardie onheil. Korrupsie, oneerlikheid, integriteitloosheid, leuens, bedrog, geweld, haat, onverdraagsaamheid en wat ook al anders is alles deel van die onheil wat die Bose op God se land kom saai het. Die lyding, die swaarkry, die ontbering waarmee soveel mense elke dag worstel, is die gevolge van die saaiwerk van die Satan, sy pogings om God se plan vir sy saailand omver te gooi.
Dit raak uiteindelik ons almal se lewens. Soms word selfs gelowiges moedeloos. Partykeer word ‘n mens selfs paniekerig en wonder jy of daar nog ‘n toekoms is. Daar kom selfs tye dat ‘n gelowige opstandig word en vra: “Hoekom laat God dit dan toe?” Hoekom laat die Here toe dat daar soveel onheil, onreg en hartseer op die aarde is? Hoekom maak Hy dit nie net reg nie? Matteus 13 gee ‘n besondere antwoord op hierdie vraag. Die Here het geduld met die onkruid. Nie met die onreg en die onheil as sodanig nie, maar met die mense daaragter, dié wat nog in die Bose se web vasgespin sit. In sy onbeskryflike genade gee God nog tyd, sodat ongelowiges dalk ook tot geloof kan kom. Ter wille van die lewens van hierdie mense, ter wille van die red van nóg verlorenes, laat die Here toe dat die onkruid op die oomblik nog tussen sy koring groei. Dit is sy genade aan ongelowiges. Daardie selfde genade wat ook van ons gelowiges gemaak het.
Romeine 8:12-25 :
Paulus begin sy argument deur te sê dat as ons rondom ons kyk, ons die wêreld sal sien sug en steun en verlang. Die ganse skepping is in nood. Dit is asof die hele wêreld weet dat iets verkeerd is, dat daar iets baie primêrs is wat skort. Die ekologie is in krisis, met die mens wat God se goeie skepping bemors en vernietig. Maar daar is iets nog meer primêr fout met die skepping. Die skepping is verganklik. ‘n Mens kan met reg sê dat die aarde sug na verlossing. Die aarde sug na herstel.
Maar nie net die aarde sug nie, ook die mensdom sug. Want die mensdom ly. Die sirenes loei, koeëls fluit, bomme bars. Mense ly honger, kry koud, sterf aan siektes. Mense is moedeloos, angsbevange, verbitterd, eensaam en benoud. En daarom sug mense, want ook die mens weet dat iets skort, dat iets nie reg is nie.
Paulus neem sy argument in vers 23 verder. Hy sê dat nie net die skepping en die mensdom sug nie. Saam met die sug van ‘n gebroke en moedelose wêreld weerklink die gesug van Christene. Hoekom sug Christene? Wel, in die heel eerste plek sug en kla Christene omdat hulle ook deel is van die skepping wat in nood en krisis is. Ons ly mos ook. Paulus sê die belangriker rede hoekom Christene sug en steun en verlang is egter omdat hulle reeds die Heilige Gees ontvang het. Die Heilige Gees is immers die Gees van die koninkryk van God; van die toekoms, van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Deur die Heilige Gees in ons proe ons as’t ware al iets van die koninkryk van God.
Dan is daar ‘n vierde party, sê Paulus, wat ook sug. En dit is die Heilige Gees. In vers 26 sê Paulus: “die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” Hoekom sug die Gees? Wel, die Gees sug omdat ons, die Christene, soms nie reg weet hoe om te sug nie. En omdat ons nie genoeg sug nie. Die Gees sug dan namens ons.