Ons lees hierdie week saam…

Ons lees hierdie week saam…
Ons lees hierdie week saam:
 
1 Februarie 2026 – Epifanie +4
Psalm 15 My hele lewe is lof aan U, o God.
Miga 6:1-8 Ek is jammer dat my passie min is.
Matteus 5:1-12 U leer my ‘n nuwe lewenstyl.
1 Korintiërs 1:18-31 Die kruis is God se krag.

Psalm 15 :
Psalm 15 gee op sy manier ‘n belangrike bydrae tot ons verstaan van die doel van ons lewens. Oorspronklik, teen sy kultuur-historiese agtergrond, is Psalm 15 in die erediens van ou Israel gebruik. Waarskynlik sou iemand wanneer hy na die tempel toe kom om die Here daar te aanbid, eers deur een van die tempelpersoneel ondervra word na die getuienis van sy lewe, voordat hy toegelaat is om die tempel in te gaan en die Here daar in die erediens te loof.
Dit is hier waar Psalm 15 ‘n baie belangrike regstelling in gelowiges se lewens wil bring. ‘n Mens loof die Here nie eers wanneer jy in ‘n erediens of ander formele byeenkoms met Hom praat en vir Hom lofliedere sing nie. ‘n Mens se hele lewe is deel van jou lof aan God. Ook – miskien moet ‘n mens eerder sê “veral” – daar buite in die gewone wêreld. Daar waar ons met ons gewone lewens besig is, is dit ons roeping om só te leef dat God deur daardie gewone dinge van ons lewens verheerlik sal word.

Miga 6:1-8
Godsdiens kan ‘n mens moeg maak. Daarvan lees ons onder andere in Miga 6. Die rede hoekom hul godsdiensbedrywighede vir Israel moeg gemaak het, was waarskynlik omdat dit vir hulle net nog een van hul baie bedrywighede was. Dit was iets wat hulle gevoel het dat hulle dit moes “doen”. Dit was vir hulle ‘n plig wat op hulle gerus het. Die probleem met ‘n plig is dat dit baie gou ‘n las word. En wanneer iets vir ‘n mens ‘n las word, dan sug en kla jy daaroor.
Dit was vir die Here verskriklik om dit te hoor. Daarom die aanklag wat die Here in Miga 6 teen sy volk bring: “Hoe het Ek julle moeg gemaak? Antwoord My!” Daarna volg ‘n kort opsomming van die Here se geskiedenis met sy volk, hoedat Hy hulle uit Egipte se slawerny laat trek het, hoedat Hy hulle teen vyandige volke beskerm het en hoe God aan hulle oorwinnings gegee het wat hulle hoegenaamd nie verdien het nie. Op daardie manier het die Here sy passie vir hulle gewys. Groot was sy teleurstelling dat hulle passie vir Hom toe êrens langs die pad in “plig” verander het. Met ander woorde: Israel het nie meer vir die Here uit passie aanbid en liefgehad nie, maar Hom met ‘n pligsgevoel begin dien. Dit was vir daardie plig wat hulle blykbaar moeg geword en oor gekla het.
In Miga 6 antwoord die Here hulle klagtes en sê dat Hy hulle nie gevra het om Hom uit plig te dien nie, maar om met ‘n passie saam met Hom te leef – ‘n passie wat doodgewoon ‘n reaksie op sy genadige teenwoordigheid in hulle lewens is. Dit is dus nie dinge wat hulle moet doen wat die Here van hulle vra nie, maar eerder ‘n manier van leef wat outomaties gebeur. Nie ‘n verpligting om sekere dinge vir God te doen nie, maar ‘n reaksie op sy teenwoordigheid wat uiteindelik hul totale lewens deurweek. Kom leef in ‘n verhouding saam met God, nie in ‘n staat van plig-doen nie, maar as uitvloeisel van jou dankbaarheid om voor Hom en saam met Hom te mag lewe.

Matteus 5:1-1 2
Ware geluk is nie iets wat ‘n mens soek en dan vind nie. Tot ‘n groot mate is ware geluk ‘n neweproduk, ‘n byproduk. Ek lees êrens wat iemand (Coenie Burger) skryf: “Wie naamlik geluk as sodanig soek, wie dit meer as enigiets anders begeer, sal die ware artikel nooit vind nie.” Nee, jy kan geluk nooit alleen op sy eie koop nie, jy kry dit net op die koop toe. Dit is eers wanneer ‘n mens as’t ware die soektog na geluk laat vaar en aandag gee aan die dinge wat regtig saak maak, dat God jou met sy vreugde kom verras.
Dit is híér waar die sogenaamde “saligsprekinge” van Jesus vir ons nuwe betekenis kry. Nee, dit is nie ‘n nuwe stel reëls wat geleef moet word en wat daarmee die waarborg dra dat as jy dit getrou nakom, ‘n mens daardeur werklik geluk sal ervaar nie. So goedkoop is die Here se woorde nooit nie. Veel eerder kan ons sê dat ons in hierdie gedeelte met ‘n wonderlike geskenk van die Here te doen het. Die saligsprekinge is in ‘n sin nog ‘n keer die Here se genadetoesegging, sy heilstoesegging aan ons (Bernard Combrink). Met hierdie bykans vreemde woorde wys die Here vir ons ‘n nuwe lewensmoontlikheid, ‘n nuwe manier van leef, te midde van hierdie stukkende ou wêreld van ons. Die saligsprekinge van Jesus is eintlik niks anders as sy genade-geskenk aan my nie, ‘n genade-geskenk wat aan my die geleentheid bied om my lewe anders te leef. Die Here het hiermee ‘n nuwe lewenstyl bekend gemaak wat Hy vir die wêreld moontlik gemaak het, en nou verras Hy my met die voorreg om só anders soos Hy te wees. Hy begenadig my – ja, seën my – met die voorreg om Hom hierin na te volg.

1 Korintiërs 1:18-3 1
Wat beteken die kruis van die Here Jesus vir jou? Wat gebeur in jou wanneer jy na ‘n voorstelling van die kruis kyk?
Paulus skryf in 1 Korintiërs 1 dat die kruis ons aan die krag van God herinner (18). En, skryf hy, dit is hierdie krag van God wat mense red. Die krag van God is die gewilligheid van die Vader om sy Seun op te offer vir die sonde en ongehoorsaamheid van mense. Die krag van God spreek mense vry, sodat hulle nie nodig het om self vir hul sonde te betaal nie. In die skadu van die kruis ontvang ‘n mens vergifnis wat jy nie verdien nie. In die skadu van die kruis word ‘n mens vrygespreek op grond van die bloed van die Gekruisigde.
Dit is ware krag. Dit is God se krag. Dit maak lewe moontlik vir mense wat lewe nie verdien nie. Dit is die boodskap van die kruis. Vir die Jode van destyds in die stad Korinte was hierdie kruis ‘n verleentheid. Vir Grieke destyds was dit ‘n onsinnigheid, ‘n domheid. Maar vir die gelowiges in Korinte was daardie kruis die werklikheid van God se krag, van sy genadegewende krag, in hulle lewens.