Ons lees hierdie week saam…

Ons lees hierdie week saam…
Ons lees hierdie week saam:
 
15 Februarie 2026 – Sondag van die Verheerliking

Eksodus 24:12-18 ‘n Ontmoeting met die heilige God.
Psalm 2 God lag vir party, maar vir jou het Hy lief.
Matteus 17:1-9 Die verheerliking van Jesus op die berg.
2 Petrus 1:16-21 Totdat die môrester opkom in jou hart.

Eksodus 24:12-18

Neem gerus kennis dat Eksodus 24 ‘n saamgestelde teks is. Dit beteken dat dit op ‘n stadium in die geskiedenis van Israel uit verskillende mondelingse verhale en tradisies gekonstrueer is. Daarom lees dit nie so maklik nie en is dit ook nie so eenvoudig om individuele begrippe te verklaar of te verduidelik nie. Die groot risiko by die lees van hierdie teks is om in sulke individuele oomblikke vas te val en jou dan te bekommer oor presies hoe die Here met die volk gepraat het; of presies wat alles die 73 leiers, wat aanvanklik die berg saam met Moses begin klim het, van die Here kon sien; of selfs hoe die kliptafels vir die wet gemaak is en presies watter wette daarop geskryf was. As jy dáár vasval is dit maklik om die teks se hoofoomblikke te mis.
Bybelkommentare sê dat die kernboodskap van Eksodus 24 nie handel oor “wat” daar by die berg gebeur het nie, maar “dat” dit gebeur het. Hoor mooi: nie “wat” nie, maar “dat”. En daardie “dat” is dat God het gekies om Moses te ontmoet. Dit is “dat” God gekies het om reëlings tussen Hom en die volk te tref oor hoe Hy tussen die volk in die tent van die tabernakel gaan kom woon. Die “hoe” God dit alles gedoen het, is nie waarheen die teks ons wil lei nie. Die boodskap lê in die feit “dat” God gekies het om Homself aan Moses te openbaar en sy teenwoordigheid aan die volk te gee. Dat God gekies het om Homself aan Moses te openbaar (en vroeër op ‘n manier ook aan die leiers van die volk); asook dat die Here Homself beskikbaar gestel het om tussen die mense tent op te slaan, is die wonder in hierdie Bybelwoorde. Die wonder in Eksodus 24 is God se keuses. En wanneer ‘n mens van ‘n wonder bewus word, is verwondering die reaksie wat daarby pas.

Psalm 2
Psalm 2 sê dat die koning in Jerusalem eintlik die koning van die hele wêreld is! Kan ‘n mens hierdie woorde ernstig opneem? Is dit nie dalk ‘n bietjie arrogant van die Bybel om só ‘n stelling te maak nie? Nee, dit is nie. Elke jaar het die volk van die Here die bestaan van die koningshuis in Jerusalem gevier. Dit was waarskynlik vir hierdie geleentheid dat Psalm 2 geskryf is. As God se gesalfde het die koning uiteindelik nie net oor sy eie mense regeer nie, maar in opdrag van God per implikasie oor die hele mensdom. Spesifiek ook oor dié volke wat nie in God geglo het nie. Dit was God se belofte aan sy mense, dat omdat Hy sy teenwoordigheid aan hulle gegee het – en binne die konteks van die Ou Testament: spesifiek in die koning as sy gesant gegee het – is die koning in Jerusalem die koning van die hele wêreld.
Vir ‘n klein volkie omring deur vyandige nasies, omtrent almal sterker en magtiger as hulleself, was hierdie psalm se woorde ‘n heerlike stuk vertroosting. Wanneer dit gevoel het asof die vyandigheid hulle wil oorrompel, kom die boodskap van Psalm 2: “Nee, wat vrees julle! God lag vir die wêreld.” Hy lag vir die mag van die maghebbers, die krag van die kragtiges, die selfvoldaanheid van heersers en regeerders wat Hom nie as die Here erken nie. Só groot is God se mag en majesteit, dat Hy lag vir elkeen wat dink dat hý die beheer en die mag het. God weet tog dat Hy alleen die laaste sê en mag het. Ongelukkig het die Jode hierdie psalm dikwels verkeerd verstaan. Hulle het verstaan dat die Here uiteindelik aan die koning in Jerusalem die militêre mag sal gee om die omliggende ongelowige volke op hul knieë te dwing. Daarom het die mense van Jerusalem vir Jesus nie as die Messias herken nie, want hulle het iemand verwag wat met mag en geweld die ongelowigs tot onderdanigheid sal bring. Hulle kon nie God se mag en sy Gesalfde in Jesus Christus herken nie. Daarom het hulle ook nie verstaan dat in Christus God se majesteit geskyn het, en dat die krag van God se heerlikheid op hierdie aarde “losgekom” het nie. Daarom wag die Jode nog vir hulle Messias. Vir ons is dit egter anders. Ons sien in Jesus Christus die oorwinning van God oor die bose, en ook die oorwinning oor die resultate van die bose se heerskappy op die aarde, naamlik: die dood en die skuld van sonde.

Matteus 17:1-9
Wat daardie dag op die berg gebeur het, was bedoel om vir die dissipels Jesus se kosbaarheid te wys. Hy was meer as net ‘n man van Galilea. Hy was meer as net nog ‘n profeet van Israel. Jesus was meer as net rabbi, meer as ‘n leermeester en die doener van wonderwerke. Jesus was die Seun van God. Al het Hy tussen en saam met die dissipels geleef, was Hy nie maar net nog een van hulle nie. Hy was anders. Hy was tegelykertyd mens en tog óók die Seun van God. Jesus was God se gestuurder Verlosser na die wêreld toe.
Destyds by Jesus se doop deur Johannes die Doper is presies dieselfde woorde uit die hemel oor Jesus uitgespreek as daardie dag op die berg, toe Petrus, Jakobus en Johannes by was. Aan die begin van sy openbare werk, en later weer hier amper aan die einde van sy taak, word uit die hemel bevestig dat Jesus soveel meer as net ‘n mens is. Dit word geopenbaar, dit word dramaties bevestig, dat Hy God se geliefde Seun is, oor wie die Vader Hom verheug. Dat Hy vir sy Vader kosbaar is ... en daarom ook vir gelowiges. Die drie dissipels - spesifiek daardie kerngroep van leiers - moes hierdie besondere woorde aangaande Jesus hoor, ter wille van dít wat vir Jesus, maar ook vir hulle en vir die res van die dissipels voorgelê het. Hulle moes verstaan dat dit nie maar net ‘n mens was wat die lydenspad na die kruis toe moes loop nie. Hulle moes dit later aan die ander gaan vertel, en nóg later aan die vroeë Christelike gemeentes verduidelik het, dat Jesus regtig die Seun van God was, wat ter wille van die mens se redding Homself gegee het.

2 Petrus 1:16-21
Petrus waarsku in sy brief die gelowiges van destyds om tog versigtig te wees vir dwaalleraars wat hulle die donker wil inlei, en wat met hulle stories en interpretasies gelowiges dalk mag verlei om op te hou wag vir (en op te hou droom oor) die wederkoms van Jesus Christus.
Die dwaalleraars van Petrus se tyd het te vertel gehad dat aangesien Jesus tot nou toe nog nie teruggekom het nie, en omdat dinge maar in elk geval aangaan soos dit aangegaan het voordat Hy na die hemel toe opgevaar het, ‘n mens dalk maar moet aanvaar dat Hy nie meer gaan kom nie. Dit is nou die werklikheid: kom ons pas daarby aan. Kom ons leef maar na die beste van ons vermoë in hierdie wêreld waar ons is. Kom ons gaan maar (as dit nodig blyk) kompormieë aan met die magte van hierdie wêreld. Kom ons probeer ons bes om tog maar net te kan oorleef. Petrus sê egter dat as ‘n mens ophou om op die wederkoms van Christus te wag, en ophou om te glo dat Hy weer kom om alles wat stukkend en omgekrap is heel te maak (en ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde tot stand te bring), verloor jy een van die grondbeginsels van die geloof. Dit is een van die fondamente waarop ons geloof rus. En verder ook: jy verloor jou fokus en jy verloor jou rigting. Dan begin ‘n gelowige om in die donker rond te dwaal. Nee, gelowiges kan nie bekostig om hulle fokus op Jesus Christus en sy wederkoms te verloor nie. Daar is nie sin om te leef as ons nie na dít - na sy wederkoms - op pad is nie.