
28 Desember 2025 – Sondag na Kersfees
Psalm 148 Alles wat geskape is, moet die Here loof. Jy ook.
Jesaja 63:7-9 Die genadige geduld van die Vader met ongehoorsames
Matteus 2:13-23 Die Immanuel het na ’n stukkende wêreld gekom
Hebreërs 2:10-18 Christus is ons Leidsman tot verlossing deur lyding
Psalm 148:
Psalm 148 het ontstaan in ’n tyd toe die Israeliete baie bedruk was. Pas terug in hulle eie land na baie jare in ballingskap in Babilon, was daar oënskynlik maar min om oor opgewonde te wees. Hulle het alles verloor. Daar was niks oor van die Israel wat hulle geken nie – dit was ’n vernietigde land. En asof die opbouproses nie al moeilik genoeg was nie, was daar allerhande onderliggende spanninge en stryde tussen die terugkerendes. Daar was boonop omliggende groepe mense wat ook nie te opgewonde was om die Israeliete weer in hulle midde terug te hê nie. In daardie moeilike tyd moes die Israeliete leer hoe om die Here weer te vertrou. Hulle moes leer hoe om die stukkies van hulle gebroke lewens met geloof in die Here aanmekaar te bind. Dit was tog uiteindelik hulle enigste vastigheid: die Here se getrouheid. En al was die stad verwoes, die landerye vernietig, die ekonomie tot niet en dinge erg deurmekaar, moes hulle leer dat die Here geloof moet word wanneer dit goed gaan, maar ook wanneer dit nie goed gaan nie.
Jesaja 63:7-9
Jesaja 63:7-16 is deel van ’n groter profesie van die sogenaamde Derde Jesaja. Hierdie profeet, van wie ons omtrent niks weet nie, het in die jare ná 516 voor Christus opgetree. Dit was die datum toe groepe Israeliete uit die Babilonse ballingskap na hul vaderland, Israel, teruggekeer het. Dit was ’n tyd van ontnugtering. Aanvanklik het hulle met groot opgewondenheid na Israel teruggekeer en met die herbouing van die tempel begin. Die haglike omstandighede het egter ’n vernietigende impak op hul geloof en moraal gehad, met gevolg dat die bouwerk gou tot stilstand gekom het. ’n Diepe moedeloosheid het onder die mense geheers. Vanuit die harde lewenswerklikheid, die ontbering, die vraagstukke en die emosionele en geestelike moedeloosheid, het die klaaglied van Jesaja 63 en 64 ontstaan. Maar dit is nie net ’n klaaglied nie. Daar is ’n element van diepe nood, maar aan die ander kant is daar ook ’n stuk herinnering – ’n herinnering wat hoop opwek. Al is hulle diep bewus van die haglikheid van hul omstandighede, met ’n diepe moedeloosheid wat hulle tot trane dwing, is daar in hulle ook ’n herinnering aan die goedheid van die Here, soos Hy Homself in die geskiedenis aan sy mense openbaar het. Te midde van hul worsteling met die harde lewe waarin hul hulself bevind, speel daardie herinnering aan die Here se genade ’n deurslaggewende rol. Daarom weerklink die klaaglied, want in die klaaglied roep hulle juis na die Here om weer sy genade aan hulle te betoon. Hy het hulle voorheen al opgetel en gedra (vers 9). Nou smag hulle weer na daardie herder wat sy kudde deur die see gelei het. Hulle roep na die Here: “Sien ons tog raak …” “U is ons vader, van ouds af is u Naam: Ons Verlosser.”
Matteus 2:13-23
Die woorde van Matteus 2:13-23 val hard op ’n mens se ore, veral so kort na Kersfees. Dit is in skreiende kontras met die klank van engele wat sing, herders en sterrekykers wat hulde bring. Dit ruk jou terug na die werklikheid van die lewe rondom ons. ’n Mens sukkel om jou in te dink watter verskrikking dit moes wees: skreeuende kinders wat met swaard en spies deurboor word, beangste ouers wat probeer om hulle kinders te beskerm, en uiteindelik ook die smartlike “gehuil en groot gejammer” (vers 18b) wat deur huise en strate weerklink het. Dit was ’n onbeskryflike wandaad. Dit kras teen ons idee van die koms van die Immanuel. Die Verlosser word gebore, maar selfs net die feit dat hy gebore word bring mee dat mense sterf. Erger nog: dat kinders sterf. Matteus was egter nie verkeerd om die gebeure na die geboorte van Jesus so brutaal eerlik aan ons te vertel nie. Hy wou beklemtoon dat Jesus juis na hierdie tipe wêreld toe gekom het, ’n wêreld wat deur onreg en gebrokenheid gekenmerk word. Dit was ter wille van hierdie gebroke wêreld dat Hy mens geword het. Ons hoef nie te dink dat die haat en wreedheid van die wêreld vir die Here onverhoeds betrap het nie. Jesus het juis gekom omdat dit ‘n wêreld bestrooi met ruïnes, bevlek met bloed, verstop met haat, gevul met pyn, is. Juis vir die nood van hierdie wêreld word God mens, om redding en verlossing te bring. Die kindermoord in Betlehem onderstreep die nood van die mensdom: só onsettend nodig het die wêreld die Kind van Betlehem.
Hebreërs 2:10-18
Dit is belangrik om raak te sien dat die Hebreërskrywer in hierdie perikoop spesifiek op Jesus se mens-karakter fokus. In die eerste hoofstuk gee hy wel aandag aan Jesus se Goddelike karakter, maar kom in die tweede hoofstuk tot besondere klem op Jesus se mens-karakter. Dit was waarskynlik omdat hy die lesers van sy brief wou help om te midde van moeilike lewensomstandighede die troos raak te sien dat ons Verlosser beide volledig God én volledig mens was. En omdat Hy volledig mens was, is Hy dus by uitstek bekwaam om ons en ons omstandighede te verstaan. Die Hebreërskrywer deel vier aangrypende beelde aangaande Jesus.
Die eerste is in vers 10, “die Leidsman tot die verlossing”. Party Bybeluitleggers verhelder “Leidsman” met woorde soos “outeur” en “pionier” en “held”, om daarmee te beklemtoon dat die Jesus wat soos ons mens was die krag van die dood tot ons voordeel oorwin het.
Die tweede beeld is in vers 11 en 12, dat Jesus Homself as ons broer beskryf. Ter wille van ons leidsman/outeur/pionier/held het die Vader ons as sy seuns en dogters aangeneem.
Die derde beeld (vers 14-15) wys daarop dat Jesus ons bevryder is (liberator), wat ons van die mag/impak/finaliteit van die dood – dít was onder die mag van die duiwel gestaan het – losgebreek het.
Die vierde en finale beeld wat die Hebreërskrywer gebruik, is dat Jesus ons “barmhartige en getroue Hoëpriester voor God” is (vers 17). Hy het sy lewe gegee sodat sy aangenome broers en susters die ewige lewe kan hê. Hierdie Jesus, ons held, ons broer, ons bevryder en ons hoëpriester, ken en verstaan ons beter as wat ons onsself kan ken en verstaan.